Wie nie waag nie…

Vir Angélique Reichel is daar geen brieke of grense nie. Sy is ’n Parkour atleet en flambojante, waaghalsige bewegings oor struikelblokke is vir haar bevrydend en hope pret.

BLOSS het bietjie meer uitgevind oor Parkour en wat Angelique se motivering is.


Foto Golden String Photography


Hoekom Parkour?

Ek was op vakansie en het myself op ’n rotsagtige strand bevind waar die gety begin inkom het en ek dringend spore moes maak om nie daardeur oorrompel te word nie. Ek het gehuiwer om oor ’n opening tussen twee rotse te spring en was teleurgesteld in myself. As tiener was ek vreesloos en ’n avonturier wat oor dakke, heinings en bome geklouter het. Ons het sokker gespeel, gestoei, fiets gery en was altyd aan die beweeg. Ek het destyds besef dat hoë hakskoene en die korporatiewe lewe my meer verander het as wat ek graag wou hê dit moes. My ma het ’n artikel oor Parkour in die koerant aan my gewys en voor ek myself kon kry, was ek versot daarop.

@angecfcrew


Wat vind jy inspirerend van Parkour?

Sedert dit meer populêr geword het, kry dit letterlik elke dag duisende mense wêreldwyd aan die beweeg waar hulle leer waartoe hul liggame in staat toe is. Parkour atlete leer selfs straatkinders die dissipline wat selfvertroue en aanvaarding meebring. Ouer mense doen ook Parkour en geniet die funksionele aspekte van die oefening. Daar heers ’n ongelooflike kameraadskap onder Parkour atlete, ongeag van agtergrond of vaardigheidsvlak moedig ons mekaar aan.

Angélique saam met mede-atlete van Concrete Foundation Crew, Sabotage Elite, Jump City Fitness en Kaizen Parkour


Wat presies is Parkour?

Parkour is ’n dissipline waar die hele ligaam gebruik word om oor stuikelblokke te kom in die mees effektiefste manier deur te hardloop, spring, rol, klim en elke ander beweging denkbaar. Soms is dit nie net om so spoedig en effektief as moontlik van punt A tot punt B te beweeg nie, maar oor hoeveel pret jy kan hê terwyl jy dit doen. Jy moet in jouself glo en die basiese bewegings is wel belangrik om beserings te voorkom. My fokus is veral eksplosiewe krag en spoed. Ek doen ook weerstandsoefeninge en geniet pull-ups, push-ups en kern oefeninge.

Foto Golden String Photography


Wat is jou boodskap aan vroue wat graag Parkour wil aandurf?

Parkour word gesien as gevaarlik maar dit is nie. Elke Parkour atleet doen bewegings binne hulle vermoëns. Dit verg wel toewyding om die volgende vlak te bereik. Soos jou krag, spoed en algemene mobiliteit verbeter, bevry dit jou as mens omdat jy gesond voel, lyk en jou liggaam optimaal funksioneer. Vrouens is veral baie sterker as wat hulle dink en dit neem glad nie lank om resultate te sien nadat hulle met Parkour begin het nie.

Video Kief Kreativ  |  Die BLOSS Adventure Crew het by Concrete Foundation Crew gaan draai gooi en ’n Parkour sessie bygewoon. Ons kan met alle eerlik sê dat dit ongelooflik lekker was


Watter Parkour atlete is vir jou ’n inspirasie?

Katie McDonnell, Pamela Forster en Luci Romberg. Hierdie vrouens wys dat jy jouself nie net fisies nie, maar ook verstandelik moet uitdaag om ’n struikelblok te oorkom.

Video Kief Kreativ  |  Onderhoud met Angélique Reichel en Bjorn de Klerk

 

Moenie dat jou moed jou begewe nie, waag ’n bietjie en probeer Parkour! Jy sal verbaas wees oor wat jy kan regkry.

 

Anrike van der Walt
Anrike van der Walt

Editor: Adventure

Anrike van der Walt has the heart of an adventurer and enjoys having an active life, doing Crossfit and is often on the lookout for new adventure. She was crowned as a Mrs. South Africa finalist in 2017, is a GAPA cover model and has a wide range of experience in the media industry. She obtained her BA Honours degree in Communication and Graphic Design at the North-West University and is currently busy with her studies in personal training.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.