Wat is ’n Poke bar?

Johannesburg spog uiteindelik met ons heel eerste Poke bar in Ilovo. As jy gesondheidsbewus is – of wil wees, gaan jy verder wil lees!

“Ono” klink nie net soos iets wat jy skreeu as jy een kaart in jou hand oor het nie, dit beteken ook delicious in Hawaii, waar die Poke bowl ontstaan het. Ons Johannesburgers is altyd so bietjie agter die mooie Kaap en alhoewel dit vir baie van ons ’n nuwe ding is, is dit ’n gunsteling vir die Kapenaars. Poke word uitgespreek as Poh-key en bestaan uit ’n mengelmoes van gesonde bestandele en rou vis (of hoender vir dié wat nie rou vis eet nie). Ek sal dit beskryf as sushi in ’n slaai vorm. Dit is ongelooflik lekker, gesond en vol voedingstowwe.

Die plekkie is klein en die kliënte is vinnig in en uit, of hulle nou inloop vir ‘n vinnige middagete en of hulle saam sit en eet, Poke is nou op almal se lippe. Vriendelike personeel groet jou soos jy instap en jy kan jou eie poke bowl saamstel, of een van hulle spesiale disse bestel. Dit is eenvoudig iets wat jy ten minste een keer moet probeer. Ono het die begin van die maand oopgemaak en is al klaar “the talk of the town”.

Ek het Ono ontdek op my soeke na ’n restaurant wat min tot geen ongesonde opsies op hulle spyskaart het nie. Jy wonder seker hoekom? Wel, ek was vriendelik verplig om my leefstyl drasties te verander.

Ek en my man sukkel al 5 jaar om swanger te raak en na ’n jaar wat ons dit op sy geskuif het, het ons besluit om ’n homeopatiese fertiliteitsdokter te gaan sien. Met soveel goeie terugvoer het ons geglo ons het nie veel om te verloor nie.

Daar gekom het ons besef dat ons leefstyl nie altyd ons liggaam aanmoedig om ’n baba te huisves nie en as jou liggaam nie eers na homself kan kyk nie, hoe gaan hy ’n baba help groei? Common sense, né?

Die enigste probleem is, ons is naïef as dit by ons eie lyf, ons eie gewoontes en ons eie gesondheid kom.

Die dokter het voorgestel dat ons suiwel- en suikerprodukte uitsny. My eerste gedagte was; “Wat op aarde wil die vrou hê moet ek eet, wortels?” My liefde vir kos strek veel verder as roereier en spinasie. Hallo, ek is ’n kosredakteur, ek eet vir ’n lewe!

Die pad terug huis toe was aansienlik langer. Ek het baie gehad om oor te dink. Vir die eerste keer het ek besef my lyf is nie die een wat my in die steek laat nie, maar dat EK eintlik my lyf in die steek laat. Alles wat in ons lyf in gaan bepaal hoe hy gaan reageer en hoeveel hy vir jou gaan kan bied.

Elke vrou wat nou die blog lees en ook met fertiliteit sukkel sal weet dat jy op ’n spesifieke tyd van die maand jou lyf haat, hy laat jou voel jy is nie goed genoeg om ’n mamma te wees nie. Word wakker! Jou lyf het jou so lief dat hy nie bereid is om jou lewe in gevaar te sit om nog ’n lewe te maak nie.  “Lets love our bodies”, ten spyte van die teleurstelling en herhaalde probeer.

Ek wens daar was ’n wenresep vir ’n baba en as jy een het, laat weet my asseblief! Wat ek wel weet is dat elke ding ’n tyd en ’n plek het, en alhoewel ek jou nie kan belowe dat jy eendag ’n mamma gaan wees nie, kan ek vir jou sê, spandeer tyd saam jou man. Gaan uit, lag saam en leef voluit, want as daar een ding is wat ons wel het, is dit jou partner.

Wees gesond, oefen gereeld en respekteer jou lyf wat so hard saam jou baklei.

So van my Danielle, groet ek julle met ’n poke bowl voor my en 2 liter water wat vir my wag.

Op gesondheid!

Ono Poke Eatery
Adres: 1 Corletteweg, Illovo (naby Parea)
Prys: Poke bakkies kom in twee grootes M – R85 en L – R115

Danielle Steynvaardt
Danielle Steynvaardt

Editor: Food & drink

Danielle Steynvaardt is a strong business woman and entrepreneur successfully running TA-DA! Acting Training Academy and Steynedtcakery. Danielle's heart beats for food, togetherness and champagne. A motto she lives by daily is that everything she eats should not only be delicious but also worthy of an Instagram post.

2 Comments
  1. Wow!
    Ek love die hele poke idee!

    Ek kan regtig sê dat ‘n mens se lyf so vinnig aanpas by gesond en vars eet.

    Ons gesin het so paar maande terug begin om soveel moontlik vars te eet, minder melk en suiker te gebruik en basies drankies tot water. koffie en tee te beperk.

    Die idee was om in die week so te eet en oor naweke wat ookal ons wil.

    Wel, die slegvoel en ongemaklikheid na ‘n naweek is net so sleg vir ons dat ons dit eintlik nie meer regkry nie.

    Ons voel almal gesonder, begin op ‘n natuurlik manier gewig verloor (die wat ekstra het) slaap baie beter en voel meer energiek.

    Baie sterkte met julle journey!

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.