Verfilming aan Ivan Botha se regisseursdebuut, Stroomop, skop af!

Volgens Persverklaring!

DIE BLOSS SPAN IS BAIE OPGEWONDE IVAN!

FOTO KREDIET:                                                                  Suna Roberts

Vrouedag gaan vanjaar behoorlik gevier word met die vrystelling van bekende akteur, bekroonde draaiboekskrywer, vervaardiger en televisieaanbieder (Fliek Foendies op kykNET), Ivan Botha, se langverwagte rolprentregisseursdebuut, STROOMOP, wat tans in die verfilmingsfase is. Botha is veral bekend vir sy rolle in die Bakgat-fliekreeks, asook twee van Suid-Afrika se grootste lokettreffers, Pad na jou Hart en Vir Altyd, teenoor Donnalee Roberts, wat saam met hom aan hierdie inspirerende prent gedroom, geskryf en vervaardig het en ook die hoofrol vertolk. Die ster, wat altyd op soek is na ’n nuwe uitdaging om aan te pak, sien uit daarna om in die regisseurstoel te wees en sê:“Ek is opgewonde om aan stuur van STROOMOP te staan en ek is gereed om dit saam met die regte span te doen.”

’n Baie ervare filmspan, wat onderandere ook bestaan uit die gesoute kinematograaf Tom Marais en mede-vervaardiger Danie Bester, het pas begin skiet aan hierdie aangrypende avontuurverhaal wat grotendeels in Onseepkans op die Oranje Rivier afspeel. “Ek en Tom het op die stel van Bakgat 1 ontmoet en ’n belofte aan mekaar gemaak dat wanneer ek my eerste film se regie doen hy daar sal wees vir my. Tien jaar later en hier gaan ons op ons eie avontuur,” verklap Ivan. “Hierdie deel van ons land die onbeskryflike vermoë om jou stil te laat… in verwondering… en so jou siel op ’n onvergeetlike reis te neem,” sê Donnalee oor die ongerepte Noordkaapse juweel wat as agtergrond vir hierdie hartsprojek gaan dien.

STROOMOP vertel die storie van vyf dames wat almal in hulle eie lewens besig is om te verdrink en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. Hulle gaan saam moet veg teen trane, woede, vrese, pyn en om oorlewing tydens hierdie opwindende riviervlotvaartavontuur op die Oranje Rivier. Dit sorg ook vir heerlike uit-jou-maag-uit-lag-oomblikke wat jou laat besef dat jy partymaal net jouself en jou omstandighede moet aanvaar en die beste daarvan maak. Soms gaan jy moet stroomop swem om te ontdek dat jy meer as genoeg is en oor alles beskik om enigiets te oorkom wat die rivier van die lewe na jou kant toe mag spoel.

Die fliek word gekomplementeer deur ’n sterk rolverdeling en elkeen van die aktrises moes vir opleiding gaan om nie net outentiek te wees in hulle spel nie, maar ook veilig op die water. “My karakter beland in ’n situasie waar sy op die rowwe waters moet leiding neem, so dis uiters belangrik vir my as aktrise om ten volle voorbereid te wees vir die uitdagings om op die rivier te kan verfilm,” meen Donnalee wat in die verlede verskeie toekennings vir haar toneelspel en filmwerk gewen het, waaronder Huisgenoot Tempo’s vir Beste Aktrise en Beste Speelfilm.

ONTMOET DIE KARAKTERS

Donnalee Roberts speel die rol van Lana, ’n chirurg met ’n hartseer verlede. Sy leef vir haar werk en is passievol daaroor om mense se lewens te red, omdat sy nie haar eie ouers kon red nie. Wanneer sy egter hierdie gawe verloor as gevolg van ’n ou besering, word haar identiteit uitgedaag en word sy gedwing om haarself te herontdek.

*Die aktrise wat bekend is vir haar rolle in Ballade vir ’n EnkelingPad na jou HartVir AltydKlein Karoo en 7de Laan het ’n BA-graad in Drama van die Universiteit van Pretoria asook diplomas van die Performing Arts and Lifestyle Institute en die New York Film Academy. Sy is mede-eienaar van 17FILMS en ’n bekroonde draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger.

Simoné Nortmann is Vivian, ’n data-analiseerder wat een groot leuen lewe. Sy het haar passie vir die lewe verloor en is opsoek na ’n nuwe avontuur.

* Simoné het naam gemaak as Nadia Croukamp in 7de Laan waarvoor sy ’n Royal Soapie-toekenning gewen het vir Beste Nuweling, maar is seker die bekendste vir haar treffende vertolking van Irma Humpel in die bekroonde lokettreffer, Vir die Voëls, waarvoor sy as Beste Aktriseaangewys is by die Huisgenoot Tempo’s en Tallgrass Internasionale Rolprentfees. Sy is ook te sien in die kykNET-reeks, Hotel, en die flieksVuil Wasgoed en Wonderlus en spog met ’n BA-dramagraad van Stellenbosch. Verder is sy ook ’n bekende gesig op die verhoog en kan sy ook goed sing.

Adrie, gespeel deur Chanelle de Jager, het baie potensiaal maar het haarself verloor tussen ma- en getroudwees. Sy soek ’n kans om haar battery te herlaai en vir ’n slag na haar eie behoeftes om te sien.

* Chanelle werk die laaste twintig jaar voor en agter die kameras. Alhoewel haar eerste liefde nog altyd toneelspel is, het sy ook haar eie studio as rolverdelingsregisseur in Kaapstad. Sy skryf ook graag en haar van haar filmverbintenisse het internasionale erkenning geniet. Haar mees onlangse werk, is die Britse reeks, Outlander, asook The Widow wat binnekort wêreldwyd uitgereik gaan word. Die meeste mense ken haar as Des van Egoli, maar sy was ook te sien in die reekse Die Boekklub 1&2 en Boland Moorde. Die aktrise het twee films en twee reekse wat almal vanjaar vrygestel word.

Nixie is ’n milleniër en introvert wat haar seer wegsteek agter valse illusies van filters en hutsmerke. Sy is baie spesifiek met wie sy tyd spandeer en wat sy sê en het nie ’n goeie verhouding met haar ma nie. Sy voel verlore en moet besluit wat sy met die res van haar lewe wil doen.

Carla Classen het ’n honneursgraad in Drama- en Rolprentstudies en is ’n talentvolle aktrise en verhoogkunstenaar. Sy het in 2016 ’n Woorfees-toekenning gekry vir haar verhoogproduksie, Howled and she forgot to say sorry, en was te sien in verskeie ander produksies, waaronder BloodweddingHinterlandStanley Washed Away, A Sense of Touch, Liewe Heksie en die Rotbende en Christine’s Room. Die aktrise maak ook onlangs haar televisiedebuut in 7de Laan gemaak.

Diona is ’n sterkwillige familieregprokureur, wat oor die jare baie hard gewerk het vir families, maar onwetend haar eie man en dogter afgeskeep het. Sy het nie ander mense nodig om waardig te voel nie en wys haar liefde deur geleenthede en oplossings te bied, wat nie is wat haar dogter nodig het nie.

*Ilse Klink is ’n bekende gesig op die verhoog en kassie. Sy is al te sien in van die land se gewildste televisieprogramme, waaronderIsidingoInkabaVilla Rosa, Roer Jou Voete en 7de Laan en speel ook in die fliek, The Path, wat later vanjaar vrygestel word. Die ster het al verskeie toekennings gewen, wat insluit ’n Avanti-toekenning vir haar rol in Isidingo, ’n Naledi-toekenning as Beste Aktrise vir haar rol in die verhoogproduksie Big Bang Blast, asook ’n Fiësta vir Beste Aktrise in Kristalvlakte en nog ’n Naledi-toekenning – in dieselfde afdeling – in 2017.

Die gewilde akteur, Armand Aucamp, wat bekend is vir sy rolle in Ballade vir ’n EnkelingDie Boekklub 1 en 2 en Knapsekêrels is ook in hierdie rolprent te sien as die riviergids, Guy, saam met verskeie ander bekende gesigte.

STROOMOP is ’n opregte en opwindende avontuurverhaal oor selfontdekking, vergifnis en aanvaarding wat by gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind. Dit word vervaardig deur 17FILMS en The Film Factory SA, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en word plaaslik deur Ster-Kinekor Entertainment versprei. Die rolprent begin op 9 Augustus 2018, landswyd, draai.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/stroomopfilm/

Twitter: @stroomopfilm

Instagram: @Stroomopfilm

Hutsmerk: #StroomopFilm

Zander de Beer
Zander de Beer

Editor: Entertainment

Zander de Beer is a dynamic young actor, singer and content creator who has been prominent in the entertainment industry since 2010. He is known for his roles and appearances on platforms like MNET, SABC, Vuzu, Mzanzi and KykNet. Zander is an active YouTube flogger and his involvement in music videos and short films are broadening his environment and achievements to an intentional accreditation level.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.