Rolene Strauss wil inspireer met album vol lewenslesse

Terugslae is deel van die lewe en is amper onmoontlik om vry te spring; drome gaan soms koers verloor, projekte gaan misluk en dit is onvermydelik dat daar rooigesigoomblikke sal wees. Maar dit is wat daarna gebeur wat ons ware sukses bepaal.

Dít is die boodskap agter SECRETS TO MY GROWTH, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld – Rolene Strauss – se inspirerende gesels-album wat op 7 Desember 2018 vrygestel sal word.

Alhoewel hierdie nogal na ’n vreemde onderneming lyk vir iemand wat so ooglopend sukses versinnebeeld – buiten vir haar titels as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld in 2014, het Rolene ook in 2017 haar MBChB-graad in Geneeskunde verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat – meen sy dat haar lewe beslis nie altyd perfek was nie.

“As negentienjarige, in 2011, het ek ook aan Mej. Suid-Afrika deelgeneem en was totaal en al onvoorbereid. Ek kon nie goed Engels praat nie en het boonop ’n gek van myself gemaak toe ek nie die vraag verstaan het wat op die laaste aand aan my gestel is nie… Maar ek het nie toegelaat dat dit my onderkry nie en is in minder as drie jaar gekroon as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld. Hierdie album gaan oor die lesse wat ek in daardie tyd geleer het om te groei as mens.” 

Spoken Word (Gesproke Woord), as ’n genre, is baie gewild oorsee en word beskryf as digkuns vir lewendige optredes. SECRETS TO MY GROWTH is een van die eerste pogings wat plaaslik aangewend word om ’n album in hierdie styl uit te bring. Daarom was dit nie heeltemal so eenvoudig om dit aanmekaar te flans nie. “Ons het niemand gehad om by te leer of vir raad te vra nie. So, gedurende die proses, het ons verskeie kere ons koppe gestamp en daar was ook verskeie uitdagings langs die pad,” erken Rolene.

Sy verduidelik dat alhoewel die konsep dalk ietwat ongewoon is vir die Suid-Afrikaanse mark, die lesse wat sy deel universeel is. SECRETS TO MY GROWTH is ’n versameling van lewenslesse en stories wat ek met mense wil deel; dit is die dinge wat ek wens ek geweet het toe ek jonger was. Die album het my instaat gestel om my siel te ontbloot soos nog nooit tevore nie en aspekte van myself te deel wat niemand nog ooit gesien het nie.”   

Die boodskappe op SECRETS TO MY GROWTH word gekomplementeer deur pragtige video-insetsels, wat deur Inhoud Huis Musiek vervaardig is. Rolene meen egter dat die beelde slegs daar is om die woorde aan te vul en dat, alhoewel die beeldmateriaal by die stukkies pas, dit nie die stories in hulle geheel vasvang nie.

“Die idee met die video’s is nie om die hele storie te vertel nie, maar net hier en daar ’n saadjie te plant. Dit is dus slegs bydraend en minimalisties. Elke individu moet die boodskappe kan interpreteer, soos nodig, in spesifieke stadiums van sy of haar lewe.”

Hierdie projek is egter nie al waarmee dié voormalige skoonheidskoningin, wat in Volksrust grootgeword het, besig is nie. Sy het ook vroeër vanjaar ’n holistiese gesondheidsentrum, RevitaHealth, op Val de Vie-landgoed in Paarl oopgemaak saam met haar skoonsus, Dr Ledivia Strauss. Alhoewel sy nie by die kliniese aspekte betrokke is nie, is sy wel baie betrokke in die besigheidsaspek van hierdie nuwe onderneming.

Rolene is verder ook die voorsitter van The Strauss Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat probeer om ’n positiewe verskil in die samelewing te maak deur gesondheid, opvoeding en liefdadigheid te bevorder. Die instansie is in 2016 deur haar en haar man, D’Niel, en hulle onderskeie families op die been gebring.

Alhoewel sy reeds baie sukses behaal het, beskou Rolene haar familie as die grootste seën in haar lewe en is die dag toe sy ’n ma geword het die belangrikste hoogtepunt. “Ons is in Januarie 2017 geseën met ’n klein wonderwerkie in ons lewens en kan nie gelukkiger wees nie. Die lesse wat ek met ander mense deel in SECRETS TO MY GROWTH, is ook wat ek vir my eie kinders wil leer wanneer die tyd reg is.”

Omdat sy graag ’n betekenisvolle en doelgerigte lewe wil ly, hoop Rolene dat sy eendag onthou sal word as ’n vrou wat alles wat sy aangepak het na die beste van haar vermoë gedoen het. As ’n mens kyk na die lys van prestasies wat sy reeds behaal het – en die deursettingsvermoë wat nodig was om dit te doen – het sy beslis reeds hierdie doelwit bereik en gaan sy onthou word vir nog baie meer.

SECRETS TO MY GROWTH kan nou bestel word by:  https://inhoudhuis.lnk.to/RoleneStrauss

Die album sal op alle digitale platforms sowel as in goeie musiekwinkels beskikbaar wees vanaf 7 Desember  2018.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/OfficialRoleneStrauss/

Twitter: @Rolene Strauss

Instagram: @rolenestrauss

Web: www.rolenestrauss.com

Zander de Beer
Zander de Beer

Editor: Entertainment

Zander de Beer is a dynamic young actor, singer and content creator who has been prominent in the entertainment industry since 2010. He is known for his roles and appearances on platforms like MNET, SABC, Vuzu, Mzanzi and KykNet. Zander is an active YouTube flogger and his involvement in music videos and short films are broadening his environment and achievements to an intentional accreditation level.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.