Omgee steek sy kop uit as trend van Augustus.

Ons dink mos altyd, “ag man so iets sal nooit met my gebeur nie”.  Nie? Tot die dag wat dit wel met jou gebeur!  Tot die dag wat die pawpaw die spreekwoordelike “fan” kliphard tref.  Moet nooit sê –nooit, nie.

Presies `n maand gelede was só `n dag vir my.  Dit was ‘n doodgewone Vrydag.  Ek het heerlik die aand by my pagebraai en is vroegaand op pad huis toe.  Binne sekondes en so onverwags het my hele lewe onherroeplik verander.  Ek het tot stilstand gekom toe my kar ‘n boom tref en die lugsakke my tot in 2018 laat skrik.  Ja, ek het in `n boom vasgery  … `n boom!  Wie doen dit?  Marolee – JY doen dit obviously.

Onmiddellik begin ek onderhandel.  Met die heelal, Vadertyd, Moedernatuur, sommer Oom Klaasvakie en Tannie Tandemuis ook.  “Groot asseblief, kan ek net vier sekondes van tyd terug draai, asseblief ek sal nooit weer vir iets vra nie … want hierdie het nie nou net met my gebeur nie.  Ek het nie nou net in ‘n boom vasgery nie!”.

Ek kon nie die tyd terugdraai nie en het gesit en luister hoe Imagine Dragons se nuutste treffer – Believer – klaar speel op die radio wat snaaks genoeg nog gespeel het.

Pain! Oh let the bullets fly, oh let them rain, my life my love my drive it came from pain!  You made me a, you made me a believer, believer”.

Fast forward gou `n paar pynlike ure, en ek bevind myself al hinkepink voor die ingang van Steve Biko Akademiese Hospitaal.  Ja, jy het reg gelees, `n staatshospitaal.  My miniatuur Franse Poodles eet pedigree hondekos, maar ek gaan na ‘n staatshospitaal toe, hoe dan nou?

Die lewe hardloop soms mos maar eienaardige paadjies met `n mens, en as jy jouself op so `n klipperige paadjie bevind is mediesefonds gewoonlik die eerste kraantjie wat toegedraai word.

Net soos talle mense het ek hope vooropgestelde idees gehad van hoe só ‘n hospitaal gaan wees.  Om eerlik te wees my trane het maar vlak gesit (en nie oor my gebreekte eina been nie).  Sjoe, was my vooropgestelde idee nie so ver van die waarheid af nie.

Tien dae in Steve Biko Akademiese Hospitaal was die nederigste ondervinding van my lewe.  Ek het beleef dat ons mensdom wat soms so verlore voorkom eintlik so opreg is met harte propvol omgee en deernis.  Dat mense na mekaar kyk deur kleurblinde oë.  Wat nie pienk of wit of geel of bruin raaksien nie en bereid is om hand by te sit waar nodig.  Mense groet mekaar daar, opreg en eerlik,  al ken ek hul van geen kant af nie.   Dankbaarheid loop oor.  Wat ‘n ongelooflike ontnugtering.

Na ‘n groot operasie en nege skroewe in my been was ek ietwat hartseer om huis toe te gaan.  Saal 4.4 was immers my tydelike huis.  Daar het ons mekaar bygestaan en ondersteun, rolstoel uitstappies en al!  Daar het ek baie gelag en ook baie gehuil.  Daar dra niemand maskers nie.  Dit was vir my so verfrissend om te sien dat `n trend van omgee weer aan die wakker word is in mense se harte.  Dit laat my dankbaar en hoopvol vir die toekoms.  Vir wat dit ook al mag inhou.  Ek laat julle met hierdie.  Karen Zoid sing, “Sonder liefde is ek niks, sonder liefde is ONS niks…”

 

 

Marolee Smith
Marolee Smith

Editor: Trends

Marolee Smith has been in the interior industry for some time and previously owned her own décor shop. Her focus, however, has shifted to styling as well as full wedding and event planning and coordination. She is constantly on the lookout for new inspirational fashion and trends. Her two poodles, Phoebé and Khaleesi are her very best friends.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.