NOMMER 37 – Gambit Films!

Nog ‘n lekker film om na uit te sien! Maak seker jy gaan volg hulle op Social media!

Lees lekker saam wat die persverklaring vir ons vertel:

 

“NOMMER 37, ’n rolprent deur Gambit Films, word gedurende die week van 9 tot 16 Maart 2018 op die grootskerm bekendgestel by die SXSW-rolprentfees in Texas. Dit is een van slegs 44 films, deur debuutfilmmakers, wat hiervoor gekies is uit 8 160 inskrywings van regoor die wêreld. Die kortfilm is reeds in 2016 bekroon met ’n SAFTA-toekenning vir Beste Kortfilm en dié projek beloof voort te bou op hierdie sukses, plaaslik en oorsee.

“Wanneer ’n fliek se naam NOMMER 37 is en in ’n fiktiewe area van die Kaapse Vlaktes afspeel, is dit maklik om aan te neem dat dit oor bendes gaan – maar dit doen nie. Dit is deur-en-deur ’n misdaadriller wat elke oomblik meer spanningsvol raak. Dit gaan oor alles wat vir ’n paartjie kan skeefloop wanneer depressie, nuuskierigheid, gierigheid, vrees en slegte keuses saamgegooi word,” sê regisseur en skrywer Nosipho Dumisa oor haar debuut-speelfilm. Nosipho wat oorspronklik van Durban af kom, maar tans in die Kaap woon, was al die regisseur van verskeie advertensies, televisiereeks- en realiteitsreeksvoorskoue, leefstylprogramme en kortfilms. Sy het onlangs ook die regie behartig van twee episodes van danZ vir kykNET & Kie en is een van die vervaardigers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster.

NOMMER 37, wat afspeel in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions in Dumisa se weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlaktes, bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eks-krimineel wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was opgekou en uitgespoeg is. “As kind, het ek graag na rillers, gruwels, aksie- en romantiese flieks gekyk. Dit was vir my opwindend om aan ’n rolprent te werk wat belangrike sosiale temas in ons gemeenskap onbeskaamd ondersoek, en net so onbeskaamd weergee as vermaak,” vertel Nosipho verder.

Irshaad Ally speel die rol van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Irshaad Ally, wat bekend is as Rhafiek in Suidooster en Gasant in Four Corners, is baie opegwonde om deel te wees van hierdie produksie. “Ek is al deel van hierdie projek sedert die kortfilm in 2014 vervaardig is. Sedertdien was daar baie uitdagings om te oorkom, maar vier jaar later word die fliek uiteindelik vrygestel. Die gevoel is onbeskryflik,” deel hy. Oor die rol wat hy speel, sê hy: “My een swaer is ’n parapleeg en ek was daar toe hy deur sy depressie gegaan het en my sussie wou los, net soos wat Randal vir Pam wou los. Hy het baie vriende, wat oor die jare deel geword het van ons gesin. Hulle is ’n wilde klomp rolstoelgebonde ouens, met skerp tonge, wat vir my soos ouer broers is. Om voor te berei vir my rol, het ek hulle persoonlike en intieme vrae gevra oor hoe dit vir ’n man is om ’n para

pleeg te wees, en dit is beantwoord met grappies en trane. Dit was terselfde tyd wonderlik en aaklig, maar ek sal dit enige tyd weer doen omdat ek so baie geleer het. Nosipho is ’n wonderlike regisseur en dit was lekker om saam met haar te werk!” 

 

Die storie, wat hoofsaaklik vanuit Randal se woonstel vertel word totdat die speurder opdaag, is slim saamgestel om die bouende spanning en gevoel van disfunksie in die fliek enduit te handhaaf. Die talent van verskeie plaaslike akteurs, waaronder Sandi Schultz (BinnelandersNoem My Skollie), Deon Lotz (HansieFaan se Trein), Elton Landrew (Die ek, AnnaDryfsand7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken VowsSuidooster), David Manuel (The OutsidersNoem My Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This LifeForgiveness) word ten toongestel, terwyl Monique Rockman ook beïndruk in haar eerste hoofrol op die grootskerm.

 

NOMMER 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel. “Ek hoop dat alle Suid-Afrikaners hierdie fliek sal gaan kyk, want die tema is universeel terwyl hulle ook meer sal sien van ’n wêreld wat aan die meeste van ons onbekend is. Teen die tyd wat fliekgangers die bioskoop verlaat, sal hulle vermaak en verras voel… en dalk ook sommer lus wees om ’n verkyker aan te skaf,” meen Nosipho.

Die rolprent is vervaardig deur Gambit Films in samewerking met kykNET Films, M-Net en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik, op 1 Junie 2018, vrygestel deur Ster-Kinekor Entertainment en sal ook internasionaal versprei word deur XYZ Films”.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/Nommer37Film/

Twitter: @Nommer37Film

Instagram: @nommer37film

Zander de Beer
Zander de Beer

Editor: Entertainment

Zander de Beer is a dynamic young actor, singer and content creator who has been prominent in the entertainment industry since 2010. He is known for his roles and appearances on platforms like MNET, SABC, Vuzu, Mzanzi and KykNet. Zander is an active YouTube flogger and his involvement in music videos and short films are broadening his environment and achievements to an intentional accreditation level.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.