Moenie jaag nie, kyk

Vyf jaar gelede het ek en my (nou) man vir twee weke ‘n kar gehuur en deur Italië gereis. Beide van ons nog vroeg in ons 20’s. Ek spot nou nog dat ons geweet het ons kan maar trou toe ek in beheer was van die navigasie en hy die kronkelende hoofweë van Italië moes baasraak – en hy het. Kyk, ek is nou nie ‘n Bartolomeu Dias nie maar ons het gekom waar ons wou en het langs die pad juwele ontdek. Italië is een van my gunsteling lande. Die kos, die kultuur, die mense wat hard praat en wild met hulle hande beduie… Dit is alles so eg, propvol geskiedenis, passievol en net heerlik. Alhoewel ek gaande oor geskiedenis is en dit altyd ‘n blywende indruk op my laat, onthou ek die stories van my reise. Soos die storie van toe ons in Verona ons eerste opera gaan kyk het. Die opera-sangers het soos kleurvolle miere daar onder in die maag van die Arena de Verona gelyk. Dit het begin reën en ek en Philip het hand aan hand in die reën gehol opsoek na ons kar, al laggende. “Sjoe, hulle stemme is ongelooflik. Dis jammer ons kon nie die einde sien nie,” het ek gesê. “Nee wat, ek drink eerder wyn saam jou,” het Philip geantwoord.

In Bologna het ons by ‘n Café du Midi pizza geeëet en plaaslike wyn gedrink. Ons het ‘n wens in Neptune se fontein gemaak (en so terloops my wens het waar geword). Daar, in een van die dorpie se piazza’s sit die dorp se inwoners en ou Italiaanse films kyk. Oud en jonk het almal gesit en gesels met pienkniekmandjies vol heerlike kosse en natuurlik bottels vol wyn. Die film wat gewys het was nog wit en swart en die held het sy heldin teen hom vas gedruk en in die nek gesoen. ‘n Groepie kinders het gegiggel tot hulle ma hulle ‘n vuil kyk gegee het.

Agter in die hoek, weg van al die filmgangers se oë het ‘n statige man en vrou gedans. Ek het opgemerk hulle moet al jare saam dans want dit lyk of die een weet wat die ander een se tree gaan wees voor hy of sy dit maak. Ek het hardop gedroom en gesê eendag as ek groot is wil ek so in eenvoud lewe. “Ons in Suid-Afrika moet nog van kultuur leer wat dié mense lankal vergeet het,” het Philip op gemerk. Dié frase het die daaropvolgende jare keer op keer by my op gekom en my herinner om eenvoudige dinge in die lewe te vier.

In Siena, na ‘n week van reis in die middel van die somer, was ons lus vir braai. Ons het by ‘n paar vakansie-oorde gebly en kon nie glo dat daar nêrens plek is om vuur te maak nie. Maar hoe sê hulle altyd? ‘n Boer maak ‘n plan. Philip het uit ‘n foelie bak ‘n braaier gebou en daai aand het ons steak gebraai. Ek dink die ander vakansiegangers het gedink ons is kens maar na ‘n week van leef op brood, kaas, wyn en salami was dit hemels.

Ons het nooit werklik beplan waar ons gaan slaap nie. Ons het gery en wanneer ons moeg was het ons gestop. Nét so het ons by ‘n klein wynlandgoed in Tuscany gestop. Ek het basiese Italiaanse-frases geken en die mense het ons met ope arms verwelkom. Die die vrou het gevra “Vino?” en ek het ja geknik. Sy het toe vir ons twee van die plaas se bottels wyn verniet gegee. Ons het in ‘n kliphuisie gebly en ek het my verbeel dis honderde jare gelede gebou. Ons wou nog een van die bottels wyn saam huis toe bring maar toe gesels en kuier ek en Philip te lekker en net die twee bottels wyn se karkasse het agter gebly.

Ek onthou somme maak by die Italiaanse-kus want hulle wil ons hoeveel vra om ‘n stoel en sambreel op die stand te huur?! Ek onthou rooiwyn-soene en grappies in Afrikaans want die Italianers verstaan nie. Ek onthou hoe ‘n kind byna Philip se beursie op die trein in Rome gesteel het. Ek onthou hoe Philip ‘n lang gesprek met ‘n ou oom buite een van ons hotelle gehad het en toe ek vra hoe hulle mekaar dan verstaan het Philip net gesê “ek weet nie maar ons doen”. Ek onthou talle wense in talle fonteine.

Om nuwe plekke te sien en te beleef is wonderlik maar dis die stories wat ‘n dorp, ‘n ete, ‘n gesprek, ‘n reis spesiaal maak. Dis daai stories (en reisdagboek hou) wat jou maak onthou, selfs vyf jaar later.

 

My raad as jy reis is dus eenvoudig: Moenie jaag nie, kyk.

 

Geskryf deur Carla Coetzee, Reisiger &  Journalis

 

Tot Volgende Keer,

 

Bloss Voyage!

 

 

Amor van de Giessen
Amor van de Giessen

Editor: Travel

Amor van de Giessen has always been a storyteller. As a child, she would tell her story to anyone who would listen and this later led to her working as a journalist at Tuks' Campus Beeld. Amor is the owner of Biamor Photography and has a great love for the visual and written arts fueled by her BA degree in Journalism in 2010 at the University of Pretoria as well as a BA degree in Fashion at LISOF in 2013.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.