Wie is ek? Maak jou lewe weer betekenisvol

Ons almal behoort iets te doen wat ons vir ’n wyle van die sorge van die lewe laat vergeet. Kry maniere om jou stessvlakke te beheer en negatiewe gedagtes oor jouself te verban deur ’n aktiwiteit te kry waarin jy belangstel en waarin jy jouself weer kan vind. Jou beste storie begin wanneer jy jouself weer in jou storie inskryf.

Maak jou lewe betekenisvol deur jou talente te geniet en gebruik jou sterkpunte om ander weer te help.

Daar is niks wat jou soveel woema gee as om ’n wow-ervaring te beleef en om bietjie te waag nie. Sommige van ons gaan groot en klim op bergfietse om heuwels te verken, ander weer kies ’n sportsoort of aktiwiteit wat hul laat ontspan en goed oor hulself laat voel. Dit is belangrik om jouself nie met ander te vergelyk nie en die waarheid oor jouself te glo – dat God jou wonderbaarlik gemaak het.

Onderaan is inspirerende Suid-Afrikaanse vroue wat nie bang is om ondersoek in te stel en uitdagings aan te durf sodat hulle hulself weer opnuut kan ontdek en die lewe weer ten volle kan geniet nie.

Janine Penniall sê prontuit dat sy lui en oorgewig was. Daar is vir haar gesê dat sy nie die genetika het om haar doelwitte te bereik nie. Sy het CrossFit begin doen en vind dit boeiend omdat haar fokus verskuif het vanaf die ideaal om goed te lyk, na eerder om bekwaam te wees. Sy het dit geniet om sekere doelwitte te bereik, soos om op haar hande te kan loop of om ’n sekere gewig vir ’n spesifieke beweging te kan hanteer. Voor sy haarself weer kon kry, het sy die verskil in die spieël gesien en gesond gelyk en gevoel! Janine meen CrossFit se positiewe energie is aansteeklik en die ondersteuning is ongelooflik. Vir meer inligting besoek cftv.co.za of CrossFit South Africa op facebook vir ’n CrossFit boks naby jou. Instagram @janine.penniall

 

Robyn Muller geniet die ekstreme sport, parkour en sê dit gaan alles oor om struikelblokke te oorkom om sodoende jou eie vrese en struikelblokke in jou lewe te oorkom. Die doel is om so vinnig moontlik oor struikelblokke te beweeg deur te spring, te duik of te klouter. Hierdie sport daag die beperkinge van jou verstand uit en die wêreld word een groot speelgrond. In die begin was die struikelblokke vir Robyn groot en angswekkend, tot wanneer sy hul oorkom het en vir die volgende groter uitdaging begin soek het. Sy sê parkour is harde oefening wat jou sterk maak, maar ook hope pret is en veral handig te pas kom wanneer jy van ’n gevaarlike situasie moet ontsnap. Besoek sabotageelite.com vir ’n parkour fasiliteit in jou omgewing. Instagram @mullerrobyn 

 

Hillary de Beer hou daarvan om dirt bike te ry en leer nog baie van dié sport. Sy staan nie terug vir kompetisie nie en die rowwe vryheid wat die kragtige motorfiets gee, laat haar toe om wild, maar in beheer deur die veld te jaag. Dirt bike is vir haar baie vervullend, veral as sy ’n nuwe tegniek leer wat sy oor en oor moet oefen. Sy glo vroue kan die drie b’s wees: beautiful, bold, brave. Hillary lag lekker terwyl sy sê dat daar niks verkeerd daarmee is as jy die wind deur jou hare voel waai met ’n bietjie modder en mascara op jou gesig nie. As jy sou belangstel en graag saam met vroue met soortgelyke doelwitte wil ry, besoek gerus Offroad Enduro LadiesInstagram @hillzbikinibizniz 

 

Zelri van der Schyff sê Roller Derby het haar soveel selfvertroue gegee, asook ander vaardighede wat sy in haar daaglikse lewe kan toepas. Sy meen dat jy in die sport ewe hard aan jou fisiese en psigiese sterkte werk, want as jy val moet jy opstaan en aanhou probeer! Sy sê ook wanneer jy “block” of “jam”, jy vinnig en strategies moet kan dink terwyl jy met spoed en krag beweeg – dit terwyl jou opponente planne van hul eie het! Vir haar is dit wonderlik om te besef dat bewegings wat onmoontlik gelyk het, sy nou kan doen omdat sy aanhou probeer het en bevoorreg genoeg is om ’n gesonde liggaam te kan hê. Elke speler kry ook ’n alter ego naam waarvolgens jy in die Roller Derby gemeenskap geken word. Haar alter ego is Zelfire – dit inspireer haar om braaf en vurig te wees! Vir meer inligting  besoek Roller Derby South Africa op facebook. Instagram @misszelfire

 

Charlaine-Lee Fouche meen met vandag se leefstyl is almal bewus van gesonde welstand, alhoewel dit altyd ’n gejaag met daaglikse roetines is. Haar passievolle beroep is agter die kospotte waar sy al vir 14 jaar ’n sjef is. Met haar lewenslustige energie, kies sy elke jaar ’n nuwe sportsoort om dit opwindend te hou. Sy doen tans kickboxing – ’n effektiewe fiksheidstendens wat kardio en spierversterking in een oefening kombineer. Die vinnige resultate het haar motiveer, transformeer en haar liggaamskrag versterk. Charlaine se metabolisme het versnel en as gevolg daarvan het sy vinnige gewigsverlies ervaar. Kickboxing is ’n vorm van selfverdediging en dien ook om spanning te verlig. Sy wens sy het vroeër met die sport begin en beveel dit beslis vir ander vroue aan. Vir meer inligting besoek kickfit.co.za Instagram @chefcharlaine

Waarvoor wag jy? As jy nie in jou lewe oorgaan tot aksie nie, wie sal? Moenie nog ’n kosbare dag verloor nie en gun jouself die geleentheid om jouself beter te leer ken deur uitdagings vir jouself te stel en tyd te maak vir ’n aktiwiteit wat jy geniet en wat sal lei tot ’n gesonder en gelukkiger jy. Stel doelwitte en moenie bang wees om te droom nie!

Anrike van der Walt
Anrike van der Walt

Editor: Adventure

Anrike van der Walt has the heart of an adventurer and enjoys having an active life, doing Crossfit and is often on the lookout for new adventure. She was crowned as a Mrs. South Africa finalist in 2017, is a GAPA cover model and has a wide range of experience in the media industry. She obtained her BA Honours degree in Communication and Graphic Design at the North-West University and is currently busy with her studies in personal training.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.