Dag 7 – Naalde, Tange en die Eiffel

Die oggend breek vars aan. Die geluid van vrolike sirenes vul die lug en dis koud. Warmer as ander dae, maar nog-steeds KOUD. Ek dink dit mag dalk wees oor Hannelie ‘n talent het om vensters tot hulle volste te benut in die hartjie van die winter. “Menopause is soos Kersfees Vader… Hy kom soos ‘n dief in die nag, al verskil is, hy vat nie, hy gee.  Hier gaan ek frostbite as kersgeskenk kry.” dink ek terwyl ek my baadjie aantrek. “Ook maar vroeg gekom die jaar!” en ek lag al die pad af sitkamer toe…

Ek kyk by die venster uit en die son skyn. Daar is ‘n trok met mense wat straat skoon maak en een man staan en swaai sy hande rond soos iemand wat koor danse oefen vir ‘n groot gala konsert. Ek sien die man het iets in sy hand en dit maak toe alles sin… Hy staan en sukkel om die poop van sy scoop te kry. Ek besluit, nee, ek maak maar eerder die venster toe voor hy besluit om harder te skud aan die ding. Netnou sit Hanelie met ‘n poofy kussing en dit sal sy nie geniet nie.

Om te wag vir ‘n vrou wat aantrek, kan vir menigte mans frustrerend wees. Ek vind dit ‘n guldige geleentheid om wyn te skink. “Maar dit is dan nog vroeg in die oggend Franna.” Hoor ek jou sê, “Wel, dit is Parys. Hier wag mense nie vir vliegtuie of goete wat vlieg nie. Al wat vandag vlug gaan vat is daai man se scoop-konkoksie. Plus… Iewers in die wêreld is dit al aand!”

Hannelie se zip van haar rok het gestrip en so moes ek toe die strate in vaar op soek na ‘n tang, naald en garing.

Só is ek die straat af en loop soek van winkel na winkel. Ek loop ‘n paartjie raak oppad straat af wat die stap-ding rustig vat. “Nog vakansiegangers.” Dink ek. Ek kyk weer ‘n paar meter later na hul kant toe en besef… Shoe, dié man is HONGER. Hy praat land en sand met sy mond so oop soos ons flat vensters op ‘n koue oggend, dit alles met ‘n mond vol kos. SEE-FOOD kan ‘n mens sê! Sy vrou gee hom ‘n kyk wat haar eie kinders bang sal maak. “Óf sy is honger,” dink ek, “Óf sy het nie verstaan wat hy vir haar probeer sê nie.” en nét soos ek dit dink, voeg hy nog ‘n stukkie brood by die partytjie wat klaar in sy mond aan die gang is.

Só asof hy nog brood nodig het, glip die twee by nog ‘n bakkery in en ek is daar verby. ‘n Halfuur later, met geen geluk op straat, is ek oppad terug en loop die twee weer raak. “Arme vrou!” dink ek. Die man het dié keer ‘n nuwe stuk brood tussen die kieste vas. Nogsteéds honger lyk dit my. Die brood in sy hand is nóu so groot dat dit ‘n hele Chinese familie Kan vol maak.

Ooh! Ek geniét hierdie mensdom vreeslik baie! Soos ek aanhou stap, gewaar ek ‘n lang leër teen ‘n gebou wat al die pad strek tot op die boonste verdieping. “Dit is hoe die mense trek in Parys?” Vra ek myself verbaas af soos ek staan ek kyk hoe hulle huis-items, een vir een, by die leër af dra en veilig in ‘n vervoer lorrie pak. Wys jou net, dis hoekom niemand hier inbreek nie. Die lift in ons gebou is so groot, 2,1569 mense kan suksesvol in hom pas (Of een van my met een van Hannelie se ekonomie-breek-koopsakkies). Net so regs van die trekkery sit ‘n vrou wat met pure geluk en tevredenheid op haar gesig ‘n paar duiwe voer. Sy is duidelik mal oor diere, want haar hondjie is ook op die bankie en hou die duiwe dop asof daar KFC oor hulle geskryf staan. Ek verstaar my so aan die vrou en haar hond dat ek amper een van haar troetel-voëls raak loop.  “Pardon” sê ek gou in Frans, voor sy my dalk met die brood in haar hand gooi. Sy glimlag gelukkig en ek loop vinnig verby. Ek kyk hoe sy haar duifies na haar toe lok met brood en sagkuns-woorde. Elke keer as hulle net dink om straat se kant toe te gaan, por sy hulle gou aan: “No, no, no!” en dan soos goeie en gehoorsame troetel-voëls keur hulle maar terug. “Ewe gehoorsaam teenoor die stuk brood in haar hand” dink ek. Ek kan nie help om te dink aan hoe honger hierdie voëls sou lei as die man van netnou hierdie moes gewaar het nie.

Ek het uiteindelik ‘n plek gevind met ‘n vriendelike siel. Geen Engelse woord kon verstaan word nie, maar google translate het die ding gedoen en ons is altwee daar weg met glimlagte op ons gesigte. My les vir die dag… hou altyd ‘n naald en garing byderhand as jy travel.

Ons is teen kwart oor drie die huis by die deur uit en het vir ‘n external hardrive gaan soek. Ek werk oor die algemeen op ‘n pc en so wil my hardeskyf nie lekker werk op Hannelie se Mac nie. Dit gekry is ons op die trein na die Eiffel Toring toe. Die rok se zip is vasgewerk met die vriendelike man se naald en garing en nou ek kan net hoop en bid dat dit die hele dag sal hou. Ek dink, nét ek sou dit snaaks vind as die rok besluit het om homself te ontklee reg langs die Eiffel Toring. “Kom ons hoop dit is nie ‘n Moulin-Rouge-strip-zip nie.” sê ek vir Hannelie soos ons by die deur uit is.”

By die Eiffel Toring aangekom, het ek nie aanvanklik besef dat die toring só masief is nie. Ons het so blok of twee vêr van die Eiffel af moes begin met die foto’s, sodat ons die toring helemal in kon kry. Ons het al Nader en nader beweeg en fotos geneem soos ons beweeg het.

Kyk, daar is iets wat mens “hangry” noem… dit is wanneer jy so honger is dat jy moody begin raak. Dus die kombinasie woord “HANGRY”. Toe ek en Hannelie nou albei op Hangry fase kom, het ons by ‘n oulike pizza plekkie gaan sit reg onder die Eiffel. Twee pizzas en twee glase wyn later is ons weer op die trein terug huiswaarts.

Wat ‘n dag… More is weer ‘n rus dag en ek sien uit na ‘n bietjie alleen-tyd saam met Jesus. Maar vir nóu is dit edit en dan weer bed toe…

Mag jy lekker slaap, waarokal jy jouself in die wêreld bevind.

Francois Olivier
Francois Olivier

EDITOR: CREATIVE

Francois Olivier is Media24's acclaimed Celebrity Photographer and Designer. He is currently the owner of Olivier Productions & Vocal Coaching SA, and has worked with industry leaders like Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Nicholis Louw, Gerhard Steyn, Karlien van Jaarsveld and many more. With his fourteen years of experience in the fashion and modeling industry the magazine and publishing world is the next stepping stone.

2 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.