Dag 6 – Koue, Rokke & die Louvre

 

“Moooorreeeeeeee!” Sê Hannelie soos sy die trappe op kom met koffie en koekies. Vandag is die dag wat ons begin met ons foto’s en ek is so opgewonde soos ‘n kind wat sopas besef het dat dit pouse tyd is.  Ek dink my brein skei ‘n oormaat dopomien af wanneer ek dink aan foto’s neem en kunswerke maak.  Dit is presies wat ek wil doen hier in Parys.  CREATING ART BABY!

 

Ons is vroeg al op om reg te maak vir die shoot. Ontbyt, klere, en Hannelie se hare is in ‘n styl geklits wat Marie Antoinette trots sou maak. Ons het besluit om eers in ons flat foto’s te neem aangesien die uitsig so mooi is.  Een, twee, drie… Die venster is oop en die koue lug stroom die huis in en verlig die atmosfeer met ‘n vars gevoel wat winter skree.  Daar klaar geneem is ons die strate in oppad na die Sacre Cœur toe.  Ons is met stelle trappe die berg op en loop orals mense raak wat opmerkings en kyke na Hannelie se kant toe gooi. Ek dink hulle het haar jammer gekry met haar onbedekte arms. “Ten minste is die rok mooi.” Sê ek soos ons met die laaste paar trappe ‘n paar soutpilare in die vorm van toeskouers verby steek. Dit is Boxing day en ek dink ons het vergeet dat vakansie dae veroorsaak dat die strate gelaai is met mense en toeriste. Die dat ons al klaar voel soos iemand wat eet voor ‘n honger hondjie wat nog nie verstaan dat dit ongeskik is om te staar terwyl mense eet nie. Al die mense gaan ons Kopdraai-speletjie aansienlik moeiliker maak vandag.  Teen enige gegewe oomblik kan ek enige iets tussen 10 en 50 mense sien na Hannelie kyk met een van twee kyke. Die “Ag shame, sy moet koud kry, gee vir haar ‘n broodjie!” kyk of die kyk wat sê: “Met jou wil ek die wille-ganse-dans doen.” en dan is daar natuurlik die spesiale tipe mense wat in albei kategorië val.

Hannelie het ‘n lig bruin baadjie met ‘n fur kraag oor haar uitrusting wat die koue uithou terwyl ons nie neem nie. Dan net om die finale “Je ne sais quoi” touch te gee op foto’s, het sy ‘n pragtige fur serpie wat mooi by haar vel tone en rok pas.  Ons het ‘n fees van ‘n tyd gehad terwyl ons die plek oorneem. Ons is elke nou en dan by ‘n warm winkel in om weer gevoel in ons vingers terug te kry of om warm Cappuccino’s te kry.

Van daar af is ons na die Kersmark toe om by die alombekende “Mur des je t’aime” of altans die muur van Liefde foto’s te neem.  Die muur is uitgelê met menigte vertalings van “Liefde”.  Daar is baie… dit voel soos ‘n padkaart van die wêreld. Ek is mal oor toer en oor die wêreld, maar ek en padkaarte verstaan mekaar mis.  So, dit behoort nie snaaks te wees as ek sê dat ek nou nog soek na die Afrikaanse vertaling nie… Voor ek kon sê: “Hottentottensoldatetentoonstellingstoegangskaartjieknipapperaatbedieningsmeganismehersteller…” is Hannelie daar voor die skare wat foto’s van die muur neem in. Ek het so gou as moontlik ‘n paar skote probeer vuur, maar toe ons nou wou loop, lyk dit my het almal verander in mode fotograwe en was daar nou ‘n skare wat vir Hannelie vra om te bly staan en haar hand in haar sy te sit vir ‘n foto. Ek geniet dit om te sien dat mense sien wat ek sien… Hoe mooi sy is.  “Die trip…” dink ek by myself, bring genesing in soveel maniere. Die wêreld het probeer om haar te maak glo dat sy meer moet wees as wat sy is en dat sy nie genoeg is nie. Met ‘n goue hart het sy net bly opstaan en deur dit als nog met ‘n glimlag ook.  Sy inspireer my tot op die diepste vlak. Dit wys jou net, daar waar mense jou mis kyk, sien ‘n ander gedeelte van die wêreld raak wie jy regtig is!

Ons het net daar besluit om na die Louvre te gaan waar ons nog verder foto’s gaan neem. Maar nou, speel ons teen tyd vir lig, besef ek. So ek en sy is daar weg op die metro met die hoop om die Louvre nog met ‘n bietjie lig in die hand te vang.  Jy sien, lig aan die kant van die wêreld is nie soos in Suid Africa nie. Die son kom 08:43 op en gaan sak tussen 4 en 5.

Gerieflik soos die Europeërs is, is ons met die trein die Louvre tot binne die gebou in. Europa is defnitief groot op gerieflikheid. Ons albei het so groot “water-breuk” nodig gehad, mens sou sweer ons het ‘n water winkel beroof.  Dus is ons die naaste toilet in. Die ding van parys is dat elke geleentheid ‘n geld maak geleentheid is en hulle toilette is nie in teenstelling nie. Hulle toilette is nie net ‘n gewone lugleegte met stalletjies om verligting en grafitti te beaam nie, nee. Hier het hulle vir hulle ‘n kamp opgeslaan soos die van die Filistyne en ‘n counter gebou waar mens produkte en toiletpapier in verskeie kleure, geure en ontwerpe kan koop vir jou huis en persoonlike gebruik. Daar uit, dink ek hardop “Ek kan nie glo ek het sopas R22 betaal om toilet toe te gaan nie!”.  “Ja nee, ons is gespoil in Suid-Afrika.”  Kom Hannelie se stem van die kant af soos ons die roltrappe na die boonste verdieping neem.

By die Louvre gebou uit, bevind ons onself in ‘n binnehof waar die Louvre aan alle kante gesien kan word, Soos jy links kyk is dit hier waar jy die Louvre se geboue kan sien die bekende piramides omvou. Daar is ‘n mini Arc de Triomphe wat sy lyf mooi wys aan ons regterkant en net verby die arc, kan jy die Eiffel Toring gewaar so in die vêrte.  Ons het foto’s geneem dat dit by ons ore uitloop en die Louvre is regtig iets vir enige toeris om te beleef.

Daar is een groot transpirante Piramide in die middel van die binnehof wat totaal en al van glas en staal gemaak is. Die is omring met drie kleiner piramides wat deur die vloer in die Louvre se laer verdiepings kan inkyk. Ek en Hannelie het met sonsondergang die mooiste foto’s hier geneem en toe tevrede gaan sit op ‘n bankie, met die doel om asem te skep en die Louvre net in te neem.  “Neem net al die details vir ‘n oomblik in.” herhinder ek myself. Daar is soveel keer wat ons vasgevang bly in ons roetines, soveel so dat ons vergeet om herinneringe te maak en om dit wat om ons is regtig te waardeer.

In Parys is dit illegal om te drink op straat. Nie dat dit nie in Suid Afrika is nie, maar hier word jy actually toegesluit. So, om die tronk te vermei sit ek en Hannelie maar in ‘n hoek en skink vir ons elk ‘n glasie champaign waar min mense ons kan raaksien (aangesien sy al klaar so baie aandag trek). Parys is die perfekte “geleentheid” om te celebrate en so sit ons en bekyk mense in die verbygang wat foto’s neem met die piramides. Shame, so paar meter van ons af is daar ‘n Thai vrou wat koud kry in ‘n pragtige  rooi rok wat deur die wind meegevoer word..  “Ek dink dit is haar troudag.” merk Hannelie op soos ons na hulle kyk.

Veilig en sonder tronkstraf by die huis, is ons gemaklike klere in.  Na vandag is Hannelie se kyk-telling die sterre in. Ek het op ‘n stadium op hou tel maar haar telling is vanaf gister se beskeie 178 na iewers in die 1500’s in. Ons het weer die metro geneem om ons iets gaan koop om te eet by die supermark.

Hannelie is ‘n volslae water verslaafde (wat dit sal ontken as jy haar moet vra.) en ons is by die supermark weg met die grootste pak gebottelde water wat jy al in jou lewe gesien het. Gelukkig het ons ‘n sleeptrollie vroeër die week gekoop. Ek dink persoonlik dat as jy hierdie trop water bottels in die helfte deur moes skei sou die israeliete deur dit kon loop in vervoering.

Terug by die huis en klaar geeet aan ‘n pizza wat Hannelie vir ons aan mekaar geslaan het, kyk ons so bietjie deur al die foto’s van vandag.  My bene is moeg en ek voel ek gaan more styf wees! Wie weet, miskien met al die loop en min eet, gaan ek nog maar wees voor ek in Pretoria aankom. My gym familie sou nou so trots op my wees! #GymGoals

Francois Olivier
Francois Olivier

Editor: Celebrity News

Francois Olivier is Media24's acclaimed Celebrity Photographer and Designer. He is currently the owner of Olivier Productions & Vocal Coaching SA, and has worked with industry leaders like Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Nicholis Louw, Gerhard Steyn, Karlien van Jaarsveld and many more. With his fourteen years of experience in the fashion and modeling industry the magazine and publishing world is the next stepping stone.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.