Dag 2 – Die groot trek

Vandag lê die wêreld voor ons… avonture wag en Parys lê en roep na ons soos ‘n siek man wat die “man-flu” het. Ha ha. Maar nie te bekommer nie, “Ons antwoord graag die stem van Parys” dink ek. “Vandag gaan awesome wees!” Parys is nie noodwendig ‘n stad met baie harde musiek of clubs nie, maar mense weet hoe om laat te kuier by koffie winkels en die massas koffie winkels wat hier is. Ek het gelukkig deur die geraas van die middestad geslaap, maar ek dink nie Hannelie was so gelukkig nie. Hannelie is oortuig die mense het amplifiers op hul toeters hier sodat UBER drywers gehoor kan word as hulle buite stop. Dit en die mense op hul eie stasies buite het haar mos natuurlik gedurig op gehad en wakker gehou. Ek aan die ander hand was net dood… na die vorige aand se skraal slaap met ‘n buurman wat al die spasie op die vlug geneem het, het ek dit geniet om in my eie spasie uitgespalk te lê!

Vandag moet ons uit die hotel uit om in ‘n flat in te trek vir die volgende week en ‘n half en ons is opgewonde soos twee tieners wat skool bank vir die eerste keer.

Die opgewondenheid om Parys beter te leer ken brand, maar een ding wat ek graag sou wou vermy was die 7 tasse wat ons albei saam moes sleep. Ons is om en by so 11 uur uit ons hotel en het besluit om die tasse in sarsies te vervoer na ons volgende bestemming wat volgens die gps net 360m van ons af is. “Yeahh! Maklike travels met tasse.” Dink ek by myself. Dankie tog Hannelie het gekyk na die tasse en nie die 360m nie. ‘n GPS is ‘n ou skelm soms. Die waarheid is nie altyd die volle waarheid nie. Kyk, hy vertel graag die afstand en laat jou maar sien dat die 360m eintlik ‘n berg is met trappe wat voel of dit nooi ophou nie. Ek het heelpad gelag… dit los nie baie krag vir die klim oor nie.

Ons het gesleep dat ek skoon bang was ek word more oggend wakker met ‘n six-pack en spiere so groot dat ek nie in my huidige klere gaan inpas nie. Dit is regtig ‘n vreugde om saam met lekker mense te travel en Hannelie is ‘n absolute fees! Sy is gedurig op soek na ‘n nuwe pad om ou plekke heen te gaan en dit kan net een ding beteken… Nuwe avonture en winkeltjies word om elke hoek en draai ontdek so asof ons die Christopher Columbusse van shopping is.

Ons het gister aand met ons aankoms by ons vorige hotel twee ouens (Kiko & Midi) ontmoet wat met hul leer-stalletjie travel en by kersmarkte oor Europa uitstal. So vlugtig ontmoet het ek en Hannelie besluit om vandag iewers vir hulle hallo te gaan sê nadat ons in ons plekkie in is.

“Dit is so mooi!” Sê Hannelie soos ons die flat binne stap. “Wow, kyk die view!” Sê ek. Die plek is regtig mooi en daar is spasie. Wit mure, ‘n view en SPASIE!! Jy sien, hotelle in Parys is nie groot op die spasie nie. As jy nie in die Sheraton bly nie, moet jy maar verby die bed skuur om by die badkamer uit te kom. Maar hier… hier is ‘n plek soos min mense die kans kry om te bewoon in Parys. Die flat sit op die heel boonste vloer van die gebou en jy kan sien dat die gebou al ‘n paar jaar oud is as jy die kleinste lift, wat net een en ‘n halwe mens kan vat, betree. Aan die een kant kyk ons uit oor wat lyk soos die hele Parys en aan die ander kant op ‘n park en die Basilique du Sacré Cœure.

Na ons paar op-en-af roetes het ons uiteindelik al ons tasse by die flat in en het ons ook toevallig ons vriende raak geloop by die kersmark. Moet nie ‘n fout maak nie, Hannelie het ook ‘n paar winkels se stock aansienlik bietjie verlaag en al wat ek kon dink was: “hoe gaan ons met al hierdie goed huis toe? Ek dink een van die boemelaars gaan defnitief ‘n kers-klerekas ryker word!” Wie weet…

Na iets te ete is ek en Hannelie na die naaste supermark toe. Ons het wel ook gou besef dat om uit te eet in Parys nogals ‘n duur storie kan raak en so het ons ‘n meer ekonomiese besluit geneem. Klere oor kos!

Oppad huistoe het die heuwel aandurf soos Armageddon gevoel en het ons besluit om eerder die metro trein aan te pak as die Goliad van heuwels. Na ‘n paar verkeerde stasies, verrimpelde pakkie-dra vingers en ‘n vriendelike man wat ons mooi verduidelik het hoe die publieke vervoer nou eintlik hier werk, het ons moeg en seer voete die flat ingestrompel. VERLIGTING… Wat ‘n dag… slaap is al wat ek nou soek… dit en Nutella natuurlik!

Francois Olivier
Francois Olivier

EDITOR: CREATIVE

Francois Olivier is Media24's acclaimed Celebrity Photographer and Designer. He is currently the owner of Olivier Productions & Vocal Coaching SA, and has worked with industry leaders like Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Nicholis Louw, Gerhard Steyn, Karlien van Jaarsveld and many more. With his fourteen years of experience in the fashion and modeling industry the magazine and publishing world is the next stepping stone.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.