Ant Molla skryf ‘n Brief

Het jy die begin van Ant Molla se brief in ons Oktober BLOSS tydskrif gelees? Hier vervolg al die skinder stories tussen haar en Tobi Jooste se brief vir die maand.

… hoe steek ek die waarheid vir jou weg tussen my lyne? My Oupa het altyd gesê, families met sulke heupe is van te veel bus ry en rou deeg eet.”

Ant Molla, waar ek sit, kan ek alles hoor wat die gesinne praat. Veral omdat ek alleen is en nie geselskap by my het nie. So vermaak ek myself deur fyn te luister wat elke gesin gesels terwyl ek my bottel Malbec / Shiraz geniet.

Links van my hoor ek die Pa vir die seun sê: “Kom pappa gooi vir jou net ‘n klein bietjie wyn. Jy moet van vroeg af leer hoe kos en wyn saamgaan. Maar net vier slukkies diep in die glas, OK?”

Regs van my hoor ek die Ma sê vir die oudste seuntjie: “Moenie so baie water drink nie. Dit vat plek op! Ons betaal een prys, julle kan skep so veel julle wil.”

Ant Molla, links sê die Ma: “Sussie, nie met jou hande nie en sit regop, net ’n swanger kat lê so in ’n stoel. Boeta, jy eet eers daardie bord kos alles op voor jy nog inskep. Omdat dit buffet is, beteken nie mens mors kos nie!”

Ek hoor iets val en kyk regs. Op die grond lê ’n aartappel. “Los!” sê die pa. “Dis all included, loop skep nog. Ons eet eers weer môreaand. Julle moet inpak nou soveel julle kan. Vandag vreet ons die plek bankrot!”

Ek vat ‘n sluk wyn en peusel aan my ‘hoenderlewer’ voorgereg.

Ant Molla, ek besef ek sit in die middel van twee verskillende vure. Beide brand. Beide is families. Beide eet uit, maar ek voel soos die middellyn van ‘n baie groot rugbyveld.

Ant Molla, die storie word toe nou vir my soos “entertainement” en ek sit my sonbril op sodat hulle nie kan sien hoe ernstig ek luister nie.

Links se mense praat die pa weer met die seuntjie: “Boetie, jy’t nog niks slaai geëet nie. Niks meer prawns voor jy ‘n slaaitjie ingeskep het nie, OK?”

Ek sien die seuntjie stem nie regtig saam, maar knik instemmend en onderdanig aan sy pa se bevel.

Ant Molla, op daardie staduim hoor ek die ma regs sê kliphard vir die man: “Waarvoor skep jy hoender? Ons ken hoender…skep die dúúr goed!!! Dis all included. Vandag vreet ons hulle bankrot, pappa!”

Ant Molla, ek het my glasie klaar gedrink en gevra of ek die bottel “take away” kan neem. Die kelner bied nog nagereg aan, wat ook “all included” is, maar ek wys dit van die hand. Ek wil eerder huis toe…

Ant Molla, ek wag toe lank vir my rekening – die plek is immers besig. Links en regs van my was lank voor my daar en wag toe ook op daardie stadium vir hul rekeninge.

Ons deel ’n kelner en hy kom aangestap met drie rekeninge en sit op elke tafel een neer.

Terwyl ek wag vir my kredietkaart om deur te gaan, sien ek ‘n klomp R20 note op links se tafel wat die kinders probeer tel. En ek hoor die Pa sê: “Nog R40 boetie. Julle het lank gespaar om vandag vir Mamma te kon uitvat vir ete. Betaal by die oom en gee vir Mamma ‘n stywe drukkie en sê; dankie dat sy altyd vir julle kos maak en liefde gee.”

Ant Molla, skielik swem my oë. Ek besef hierdie Pa is besig om hierdie kinders ‘n mooi lewensles te leer.

“Koe-wee!” skree die die ma regs vir die kelner. “Vat julle American Express, Boetie?”

Ons kelner knik met sy kop terwyl sy die kaart hoog in die lug hou sodat almal kan sien sy bank nie net lokaal nie.

Ant Molla, ek staan op en onthou my Ouma se woorde: “Klas kan jy nie koop nie, my bekkie!”

Toe ek links, verby die regter tafel stap, hoor ek die pa sê vir sy vrou: “Mamma, as jy by ‘n buffet opstaan en lyk soos een wat slegte nuus gekry het nie, het jy nie waarde vir jou geld geëet nie!”

Ek skud my kop en stap uit na die deur. Die eienaar staan gereed om my te groet.

“Sterkte met die tafel in die hoek!” spot ek.

“Aai meneer, ons sien dit baie! Party kom vir ‘eat-as-much-as-you-can’ en dan is daar altyd daardie familie wat kom vir ‘eat-as-much-as-we’ve-got’!”

Ons deel ’n lag en hy skud my hand.

Ant Molla, standaard is ‘n goeie ding. Net jammer daar is so baie daarvan…?

Tobi Jooste
Tobi Jooste

Editor: Book Club

Tobi Jooste is a man of many talents and has excelled in his career through various paths. He is well known singer, TV presenter, model, successful business man, enthusiastic traveler and writer. Tobi has released six music albums, a DVD and his second book, Daar is ’n Eiffeltoring in sy boedel, currently a top seller in the South African market. Tobi reveals his heart to the public in the "Ant Molla" section he writes on a monthly base.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.