Ant Molla skryf ‘n Brief

Het jy die begin van Ant Molla se brief in ons November BLOSS tydskrif gelees? Hier vervolg al die skinder stories tussen haar en Tobi Jooste se brief vir die maand.

… Het ek vir Karlien gebel, sou ek daai song ge-request het…mmmm…wat’ s die ding se naam? Iets soos, ‘Ek wil nie kwaai loop slaap nie’…”

“Wat bedoel, mevrou?” vra ek.

“Nee jong, almal weet van die storie. So rukkie terug het ou Gert, dis nou die bruid se pa, die Vrydagoggend glo opgestaan om te gaan visvang. Die storie het toe só uitgekom dat toe hy in die motorhuis kom om sy vis goed reg te kry, hy toe besef dat dit vreeslik reën. Nadat hy die weervoorspelling op die internet gekyk het, het hy glo gesien dit gaan heel naweek reën.

Hy’t toe glo na ‘n uur maar als weer terug gepak en is toe terug slaapkamer toe. Blykbaar toe hy terug klim in die bed en deur sy tande fluister: “die weer is te sleg daar buite”, toe antwoord ou dik Susan: “Ja, en om te dink my man is so simpel om te gaan visvang!” “Almal in die dorp weet van die storie, Tobi!”

“Hoe laat is klank toets?” vra ek om die ongemak te systap.

Ant Molla, die troue was vreeslik mooi. Alles wat geld kon koop, was daar.  Die bruid het met ‘n koets gekom met ‘n perd met een vals been. Sy naam is glo Oskar.

Terwyl sy ingestap het, het haar vet niggie iets van Elton John op die panfluit geblaas, maar sy smag so na asem tussen die note, dit klink of die Suidooster deur daai fluit waai!

Ant Molla, daar was baie mense. Die kerkie was stampvol. Die dominee was daai man wat Sondae op KykNET preek. Mens kon sien hier’s geld en hier wil ‘afgeshow’ word, Ant Molla. Hulle het selfs vir Dominee ’n koejawel kleur onderbaadjie laat maak wat by die bruid se skoene en ruiker pas. Ant Molla, die dominee vertel my na die tyd hulle het versoek dat hy asseblief uit RUT se boek moet lees, want op die familieplaas was daar met koring geboer destyds.

Ant Molla, dis nou nie skinder nie. Dis die heilige waarheid en ek kon nie wag om vir jou te skryf nie…

Die diens het mooi verloop en die KykNET-dominee het hom goed van sy taak gekwyt met sy boodskap oor Rut – die huwelik en die koringare – die Heilige Gees….

Maar, Ant Molla, toe kom Dominee by daardie gedeelte van die formulier waar hy vra of enigeen beswaar het teen hierdie huwelik….

Ant Molla, nes die noodlot dit wil hê, staan daar op daardie oomblik wat Dominee ’n stil oomblik ingaan na sy vraag oor die beswaar, ’n ouerige vrou agter in die kerkie op met ‘n baba op haar heup en sy stap vorentoe.

Ant Molla, jy kon ’n speld hoor val! Dominee se oë sit uitgeskop in sy kop soos ’n spinnekop wat wil eiers lê! Almal kyk vir die antie wat in die paadjie aangestap kom. Die bruid gluur die bruidegom aan met wilde oë! Ant Molla, die bruidegom se ma druk haar man in sy heup met haar handsak! Die bruid se pa staan op, stap na die bruidegom en druk sy ‘suit’ se moue terug soos een wat nóú gaan vuis slaan…..!

Ant Molla! Op daardie oomblik was daar meer spanning in daardie kerkie as ‘n bloedklont in ’n ouetehuis!

Toe die tannie en die baba voor kom, red dominee die situasie en vra met ’n bewerige stem: “Wat is u beswaar, mevrou?”

Ant Molla, ek het net my kop tussen my bene gedruk sodat hulle nie kon sien hoe ek lag toe die tannie kliphard vir Dominee sê: “Dominee, ek wil net sê ons kan niks hoor daar agter nie!”

Tobi Jooste
Tobi Jooste

Editor: Book Club

Tobi Jooste is a man of many talents and has excelled in his career through various paths. He is well known singer, TV presenter, model, successful business man, enthusiastic traveler and writer. Tobi has released six music albums, a DVD and his second book, Daar is ’n Eiffeltoring in sy boedel, currently a top seller in the South African market. Tobi reveals his heart to the public in the "Ant Molla" section he writes on a monthly base.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exiting ways to keep things fresh, modern and interactive.